Ons het besluit om nie deur die wildtuin te ry nie, net hier rond te stap en later strand toe te gaan. Na brunch, roereier op brood saam met rooiworsies en ʼn tamatie in kwarte gesny, stap ons see se kant toe. Ons stap, of sal ek sê klim oor die groot duin aan die Suide kant van die kampterrein en word bo-op die duin begroet met ʼn ongelooflike uitsig oor die strand en see. Ons moet eers ʼn rukkie hier vertoef om dit te kan inneem, dis pragtig. Pyp in die mond staar ek na die prentjie voor my en verlang na mense wat ek nie ken nie – kan heeldag net hier sit en weer mens word. Skielik word jy ook bewus van die wind wat redelik sterk waai want die kampplekke is baie beskut, daar voel jy nie die wind nie.