By Afsaal aangekom is dit al ʼn bynes van mense, soos gewoonlik. Ons kry ʼn gasbraai en kry ʼn tafel onder die koeltebome. Die flying fish in die koffiebeker smaak vorentoe. ʼn Jaar of wat terug is die gebruik van alkohol by alle piekniekplekke verbied nadat dagbesoekers in kombi’s die plekke gebruik het om te kom suip en dan so lawaai het dat mense nie meer wildtuin toe wou kom nie. Dis jammer want ek hou van my biertjie so saam met die brunch in die wildtuin maar ek het daardie jare self by piekniekplekke aangekom om net weer terug te klim in die kar want ek het nie kans gesien om by sulke lawaaimakers in die bos te kuier nie. Toe het ek al voorspel dat hulle die gebruik van alkohol gaan verbied, nie net by piekniekplekke nie maar vir alle dagbesoekers. Nou “vermom” ek maar my versnaperinkies.