Ek steek vuur aan, die laaste keer op ons toer. Ek het drie sakke hout gekoop, kan maar groot gaan vanaand. Ek sit die laptop op die TV skinkbord en begin die slide show, die eerste foto’s van 81 dae gelede waar ons in my drive way staan, reg om te vertrek. Elke foto vertel ʼn storie en ons lewer gereeld kommentaar. Vanaand mis ons weer vir Anton en Magda, sou hulle graag hier wou gehad het om dit saam met ons te kon afsluit. Dis baie foto’s en na ʼn uur begin ek braai terwyl ons vir nog ʼn hele tyd lank al die foto’s kyk. Moeksie het reg beplan, dis tjops en braaibroodjies vanaand, my gunsteling, die regte kos om die toer mee af te sluit.