By Goodhouse soek ons eers die lokale winkel op, nie ʼn groot keuse nie, want dit is ʼn one-horse-town. By B.P. Mobile word ons vriendelik ontvang. Die winkel is so 3m by 3m, ʼn regte plaaswinkeltjie, soos ek hulle onthou uit my kinderdae en ons is verbaas oor die verskeidenheid voorraad op die rakke. In die huisie aangrensend aan die winkel word die kos gekook, maar die res voel nie nou vir iets te ete nie en ek laat vaar dit. Die vrou by die winkel wil weet wat ons hier kom maak en glo ons nie toe ons vertel ons ry net deur nie. Mense ry nie net deur Goodhouse nie. As hulle hierheen kom, dan kom doen hulle werk hier. Dis te vêr en afgeleë om net deur te ry, praat sy in mooi Afrikaans. Ons koop koeldrank, neem ʼn paar foto’s en vat die pad.
Dankie Hollies, ek geniet. Ek hou van die nuwe formaat.